Bergsig Oorsig

Meer oor ons gemeente

Ons gemeente vier in 2017 ons Jubeljaar maar waar het alles begin?

Die afstigtingsvergadering van die gemeente Rustenburg-Bergsig het plaasgevind op 16 November 1967 onder leiding van ds. J.M.Benade. Die gemeente Rustenburg-Wes, van wie ons afgestig is, het aan die nuwe gemeente die pastorie te Klopperstraat 159 as bruidskat aangebied, asook R10 000 betaalbaar oor tien jaar. Op hierdie vergadering is 16 ouderlinge en 16 diakens tot die Kerkraad verkies, om die 350 lidmate in 16 wyke te bedien. Ten tye van afstigting het die suidelike grens van dié dorpswyke slegs tot by Zandstraat gestrek.

Die eerste paar maande is dienste in die kerkgebou van Rustenburg-Suid gehou: in die oggend afsonderlik en saans gesamentlik. Bidure, vergaderings, samekomste- en wyksbasaars is in die dubbelmotorhuis van die Klopperstraatpastorie gehou. (Vir dié doel is die motorhuis vergroot met seile). Lang houtbankies het as sitplekke gedien.

Die eerste kerkraadsvergadering, onder voorsitterskap van ds. D.S Jacobs van Rustenburg-Suid (konsulent) is op 27 November 1967 gehou. Tydens hierdie vergadering is ds. S.J. Blom van Zeerust na die gemeente beroep, maar hy het dit nie aanvaar nie.

Op 17 Januarie 1968 word ds. Eugene Olivier van Cachet, Germiston, hierheen beroep. Hy aanvaar die beroep en word op 18 Maart 1968 as eerste leraar ontvang.

Ds. S.J. Stander, afgetrede predikant, het intussen as leraar uitgehelp. Oom Okkie Pretorius was die eerste skriba-kassier en Oom Chris Joubert die eerste “Sondagskoolsekretaris”. Mnr. W. Viljoen was die tydelike orrelis.

Na die ontvangs van ds. Olivier het ons die saal van Hoërskool-Bergsig vir eredienste gebruik, terwyl die kategeseklasse op dié skool se stoepe ‘n heenkome moes vind. Op dié stadium is ‘n elektriese orrel deur ‘n gemeentelid geskenk. Op 18 Mei 1970 ontvang die boukommissie ‘n opdrag om voort te gaan met die kerkbou-beplanning en na vele maande word mnr. Paul J. du Plessis as argitek aangestel. Op hierdie stadium was die maandelikse inkomste R8000 per maand. Voordat die bouery ‘n aanvang kon neem, het ds. Olivier ‘n beroep na Monument Park aanvaar. Ds. S.J. Coetzer, vanaf Koedoeskop, word op 29 Julie 1972 hier ontvang. Hy neem dadelik die leisels oor en die boubeplanning vorder fluks. Op 21 Oktober ’72 word die eerste sooi gespit deur oom Piet van Zyl, ds. Fanie Coetzer en Mev. Hettie Coetzer. Die bouwerk is gedoen deur die firma S.F. Malan en Seuns.

Op 16 Februarie 1974 word die hoeksteen deur ds. Eugene Olivier gelê, terwyl ds. Fanie Coetzer die argiefsilinder in posisie agter die hoeksteen plaas. Onder die leiding van ds. Fanie Coetzer, word die kerkgebou die naweek van 5-6 Oktober 1974 ingewy.