Glaswerk

Glaswerk in die kerk

Die glaspanele in die kerk is van spesifieke belang.

TEMA: Die Wederkoms        

Die paneel, moet van ONDER na BO gesien en verstaan word. Die drie panele bestaan
dan uit die volgende elemente:

1.In die onderste gedeelte sien jy DRIE ligeenhede en dit stel die geopenbaarde DRIE-EENHEID in die ondermaanse, die wêreld, voor met alles wat dit inhou.

2.In die tweede gedeelte vind ons, aan die onderkant, ‘n ligbron wat bestaan uit wisselende skakeringe van groen wat na bo spiraal. Hierdie Ligbron stel die “see van glas soos kristal” van Openbaring 4, voor. Pas bokant hierdie ligbron en wat dan ook op die ligbron rus, verskyn die “Wit Troon” van Openbaring 4 en 5 as die plek van Regspraak. Bokant die “ Wit Troon” vervat ‘n verdere spiraal wat dan eindig in die derde gedeelte.

3.In hierdie gedeelte is ‘n Kroon – die Simboliese KROON VAN DIE LEWE. Hierdie paneel moet as volg verstaan word: Jesus het in die wêreld gekom om ons van ons Sondes te verlos (deel 1). Wie in hierdie lewe, vanweë Sy verlossing, die belofte van die Ewige Lewe ontvang het, verskyn na afsterwe voor die “Wit Troon” (deel 2)  om die “Kroon van die Lewe” (deel 3), te ontvang.

Paneel by ingang 

TEMA: Jesus, die LIG van die wêreld

In hierdie paneel, wat jy van ONDER na BO moet sien en verstaan, verskyn in die onderste gedeelte die volgende elemente:

* Die agtergrondkleur wat oorheersend donker is, beeld ‘n wêreld uit wat in sonde vasgevang is.
* Links bo verskyn ‘n ligbron wat Jesus die Lig IN hierdie wêreld uitbeeld.
* Effe uit die middelpunt na regs verskyn ‘n skip - die beeld van die kerk met die mas in die vorm van ‘n kruis.
* In hierdie skip is ‘n man aan’t visvang en dit moet gesien word as Jesus se woorde: Vissers van Mense. Die Boodskap van hierdie gedeelte moet verstaan word as volg: Jesus, die Lig, skyn in hierdie wêreld waar Kerk (en daarom gelowige) die roeping het om uit te gaan op die lewenssee en visser van mense te wees.

Die Tweede en derde gedeeltes van hierdie paneel val saam in ‘n groot ligbron met ‘n ligkonsentrasie rondom die skeiding tussen hierdie twee dele. Die opmerksame persoon sal, in abstraksie, ‘n kruis kan sien wat gevorm word deur ligkonsentrasies. Met die bou van die galery is die effek effens verbloem.